Oorsig

Afdeling Kortkursusse is in Januarie 2007 gevestig met die doel om die prosesse rakende kortkursusse namens die instelling te koördineer, te standaardiseer en te ondersteun. 

Die aanbieding van kortkursusse is ‘n onderrigaktiwiteit wat in die naam van die Universiteit plaasvind en moet voldoen aan die gehalteversekeringsvereistes van die Universiteit en die tersaaklike owerheids- en reguleringsinstellings (DHOO; RHO en SAKO).

Die Universiteit Stellenbosch is deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) as ʼn verskaffer van Openbare Hoëronderwys geakkrediteer en is op die SAKO-lys van Openbare Hoëronderwysverskaffers geregistreer. In Universiteit Stellenbosch se geval, die kwaliteitsversekeringsliggaam wat die rol van ’n Onderwys- en Opleidingsgehalteversekeraar (OOGV) vervul is die Raad op Hoër Onderwys se Gehaltekomitee vir Hoër Onderwys (HOGK). Alle kortkursusse aangebied deur die Universiteit Stellenbosch is deur die Universiteit geakkrediteer met behulp van die gehalteversekeringstelsels en -meganismes wat deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO)/HOGK goedgekeur is.

Universiteit Stellenbosch se kortkursusse is vir beide die openbare en privaat sektore geskik. Dit bied geleenthede vir individue en organisasies om gehoor te gee aan huidige markaanvraag en bied ook voortgesette professionele ontwikkeling aan beroepsmense. Hierdie kursusse bied nie krediete aan wat erken kan word ten opsigte van ‘n formele kwalifikasie nie.

Die bestuursverantwoordelikheid vir kortkursusse is gesetel in die normale akademiese bestuurslyne, nl. departementele voorsitters en dekane, of omgewings- en VS-hoofde.

Die funksies van die Afdeling sluit die volgende in:

  • Ontwikkeling van beleide en prosedures vir die bestuur, administrasie, registrasie en gehalteversekering van kortkursusse   
  • Interpretasie van nasionale beleidsraamwerke    
  • Verskaffing van ondersteuning en advies aan personeel rakende die ontwikkeling van kortkursusse   
  • Advies ten opsigte van en fasilitering van ooreenkomste tussen US-departemente en ander vennote   
  • Instandhouding en opgradering van die kortkursus aanlynregistrasiestelsel en verskaffing van opleiding en ondersteuning in die gebruik van die stelsel    
  • Ontwikkel en onderhoud van ’n webwerf vir bemarking van kortkursusse   
  • Advies en ondersteuning rakende die finansiële administrasie van kortkursusse (insl die opstel van begrotings) 
  • Prosesse vir studenteregistrasie en die onderhoud van ’n studentedatabasis   
  • Riglyne vir sertifisering   
  • Prosesse vir die evaluering van kortkursusse na afloop van ‘n aanbieding en die resultate van die evalueringsproses kan gebruik word vir die verdere ontwikkeling van die kortkursus  
  • Verslagdoening aan die Raad vir Hoër Onderwys (RHO)